Spanjaarde | |
---|---|
Totale bevolking: | ca. 50 miljoen |
Belangrike bevolkings in: | Spanje 41,5 miljoen[1] Argentinië 500 000[2][3] |
Taal: | Spaans en ander tale (Baskies • Galicies • Katalaans) |
Geloofsoortuiging: | Christendom (Hoofsaaklik Rooms-Katolieke Kerk 73,4%)[7] • Ateïsme 24%[8] • ander godsdienste 2,1% insluitende Judaïsme, Islam, Boeddhisme, Hindoeïsme |
Verwante etniese groepe: | Ander Romaanse volke soos Franse, Italianers, Katalane, Portugese en Roemene |
Die Spanjaarde (Spaans: españoles, [espaˈɲoles]) is die staatsvolk van Spanje, bestaande uit verskillende etniese groepe. Naas die Spaanse vastelandse gedeelte van die Iberiese Skiereiland bewoon hulle omliggende eilande soos die Baleariese en die Kanariese Eilande. Hulle deel 'n gemeenskaplike kultuur, afkoms en praat Spaans of 'n ander Romaanse taal of Baskies as moedertaal. Spanjaarde vorm die titulêre nasie van Spanje, waar hulle 88% van die bevolking uitmaak, terwyl volgens die wetlike sin die hele bevolking van Spanje Spanjaarde is, alhoewel Baske en Katalane hul eie nasionale identiteit as etniese en taalgroepe handhaaf.
Wêreldwyd leef byna 50 miljoen Spanjaarde, waarvan omtrent 41 miljoen in Spanje en meer as 2 miljoen in die Spaanse diaspora, veral in die Amerikas en lande van Wes-Europa.[9] Na die Spaanse verowering van beide die Asteekse en die Inka-ryk in die 16de eeu het tientalle Spanjaarde in die Vise-Koninkryke van Nieu-Spanje en Peru gevestig.[10] In die tydperk vanaf 1850 tot 1950 het 3,5 miljoen Spanjaarde ná Noord- en Suid-Amerikaanse lande soos Argentinië, Uruguay, Meksiko,[11] Brasilië, Chili, Venezuela en Kuba migreer.[12] Nadat Wes-Duitsland in die 1950's en 1960's sy grootste ekonomiese opswaai beleef het, die sogenaamde "Wirtschaftswunder", is Spanjaarde saam met Italianers en ander nasies van die Middellandse See genooi om in dié land te gaan werk en woon. Spanjaarde het 'n groot invloed en bydrae tot wetenskap, kuns, tegnologie, kookkuns, sport, regsgeleerdheid en bankwese, beide in die buiteland en wêreldwyd. Spanjaarde is algemeen bekend vir hul lokalisme, sowel regionaliste en munisipaliste asook hul aandag aan klere en respek vir gesinswaardes.
Volgens etniese herkoms leef wêreldwyd sowat 500 miljoen mense met 'n Spaanse herkoms, veral in lande van Latyns-Amerika. In Meksiko is sowat 94 miljoen mense van ten minste gedeeltelike Spaanse afkoms,[13] gevolg deur die Verenigde State met sowat 50 miljoen.[14] Die verspreiding van Spanjaarde het veral met die uitbreiding van die Spaanse Ryk tussen die 15de en die 17de eeu gepaard gegaan, waarvan naas die Amerikas ook die Filippyne en kleiner gebiede langs die kus van Afrika betrokke was.[15]